So. Utopia was toe nie vir my nie. Flippet, waarheen gaan ‘n mens onder sulke omstandighede met vakansie? Waarheen gaan jy as die sogenaamde Hemel Op Aarde eenvoudig nie jou scene is nie? Ek moes natuurlik fokus op die opinies van diegene wat my van die wonders van Utopia vertel het. Wat sou die teenoorgestelde van Utopia vir daai mense gewees het? Die teenoorgestelde van die hemel? Hel. Hel op aarde? Hmmm. ‘n Plek wat ryafstand van Land-Van-Die-Lewendes is (armgat student, onthou) wat nie as ‘n populêre vakansieplek deur die gemiddelde Afrikaner beskou word nie. En gepraat van Afrikaners, ek was gatvol vir hulle. Ek moes landuit, êrens waar daar absoluut geen kans sou wees dat ek iemand raakloop wat my vra hoe fantasties dit in Utopia is nie.
Dit was amper te maklik. Die antwoord was duidelik. Zimbabwe.
Gelukkig het ‘n ou familievriendin planne gehad om die nuwejaar by die Vic Falls in te klink. ‘n Paar oproepe later en die planne was gemaak. Ek sou saam met Zimbabwe se hele oorblywende wit bevolking die nuwejaar by ‘n kampplek in Victoria Falls (die dorpie) inklink. Dit was waaragtig so ver van Utopia soos wat ‘n mens op sulke kort kennisgewing en met so min geld kon kom.
Maar as ek hierdie gaan doen gaan ek dit ordentlik doen, het ek gedink. En hoe ry ‘n mens “ordentlik” Zimbabwe toe? Wel, jy doen dit soos ‘n Zimbabwier, natuurlik. Op ‘n bus. Maar nou moet ‘n mens versigtig wees, sien ek self het amper in die trap geval en op ‘n groot, luukse bus gespring - en my kans om ‘n outentistiese Zimbabwiese ervaring baie amper verspeel. Lugverkoeling? Moenie laf wees nie. Sagte sitplekke? Nope. ‘n Graad van higieniesheid wat volgens enige normale regulasies gesond beskou sou word? Dink weer. Nee, as jy soos ‘n Zimbabwier reis doen jy dit in ‘n bus wat van die eerste oomblik wat jy hom sien lyk of hy gaan breek (more on that later), jy vat vir jou hele familie kersgeskenke saam (breekbares, natuurlik, wat nie onder die bus in die bagasiekompartement gestoor mag word nie), jy pak ‘n smaaklike aandete van pap en hoender (baie baie pap en hoender) en jy maak ‘n lys van al die moontlike dinge waaroor jy met jou medereisiger (of dit nou ‘n vreemdeling is of nie) kan gesels, want 18 ure is ‘n lang tyd om op ‘n bus te sit, en bewaar ons as ons vir ‘n enkele oomblik gedurende die rit niks het om te sê nie. (Die lysie-ding is aangeneem, ek het nie eintlik fisies enige lysies gesien op die bus nie, maar ‘n mens moet ‘n lysie hê as jy vir 18 ure aanhoudend wil praat, daar is net geen manier hoe jy dit kan volhou sonder om vooruit te beplan nie.)
Wel, dit weet ek nou. Ek was effens meer clueless toe ek op die bus klim. Oukei, dis nou nie asof ek gedink het niemand sou dink dis snaaks dat ‘n negentienjarige wit meisie stoksielalleen op ‘n bus klim wat oppad is Zimbabwe toe nie. Oukei? Ek weet dis vreemd. Maar, seker soos ek wou gehad het mense moet dink ek was, was ek eintlik baie, baie bang. Maar die prys wat gewen kon word, die moontlike uiteinde van hierdie avontuur was ‘n plek of mense of ‘n ondervinding wat my laat voel ek’s nie so alleen in hierdie wêreld nie, en dit, die moontlikheid dat ek dit sou vind was genoeg om te maak dat ek my ruksak oor my rug swaai, my familie groet en my brave face aansit.
Ek het probeer oppellie met die jonger reisigers met jeans aan pleks van tradisionele rompe. Dit het nie gewerk nie. “Are you going to Zimbabwe?” Wenkbroue wat byna haar haarlyn raak, neus opgetrek, snigger snigger snigger van al die ander jongmense. Nee hel, dit was te veel soos pouse in hoërskool. Who needs it? Hulle was duidelik nie lus om deel van my potensieel-lewensverrykende ondervinding te wees nie. Well, no bother. Wie sê ander mense moet jou ondervindings verryk? Ek sou ‘n heel verrykende ondervinding heeltemal alleen kon hantaaf, baie dankie. So ek het op my eie gaan sit, my oorfone in my ore gedruk en probeer kalm bly toe die bus begin ry en ek die liggies van Land-Van-Die-Lewendes stadig maar seker sien minder en minder word deur my stowwerige venster. Nog ‘n ding wat ek nou weet is dat daar redelik baie vrouens met babas en klein kindertjies is wat van hierdie busse gebruik maak. Dit word dus aanbeveel dat ‘n mens sommer van die begin af langs iemand sonder kleuters op hul skote gaan sit, al is daar nog ‘n klomp dubbelsitplekke oop. Want, ten spyte van wat mens sou dink van Zimbabwiese busse raak hulle nogal vol. Selfs al ry jy van jou bushalte af met ‘n paar oopsitplekke op die bus, dit gaan verander. Ander mense klim op. Dis natuurlik iets wat Witmeisie uit Land-Van-Die-Lewendes nie aan gedink het nie, al is dit so pynlik obvious ‘n mens wil skree. Dis dan hoe ek binne ‘n uur van my reis twee metgeselle gekry het, op die enkele sitplek wat ek so slim gedink het myne sal bly vir die res van die reis. (Hmmm, dis gerieflik, ‘n oop sitplek, dis toevallig. Daar is seker minder mense wat net voor nuwejaar Zimbabwe toe wil gaan hierdie jaar as wat hulle gedink het. Seriously. Hoe werk ‘n mens se kop in sulke situasies?) Baie interessant, alhoewel, was dat die plek langs myne letterlik die laaste een op daardie hele bus was wat gevul geword het. Mense het gewilliglik langs mense met klein kinders op hulle skote gaan sit, mense het hulle beenspasie opgeoffer en langs mense met ‘n dubbele dosis kersgeskenke gaan sit eerder as om langs die wit meisie te sit. Yup, as ek ooit soos ‘n outsider gevoel het was dit toe. Die vrou met die baba het ongewilliglik langs my kom sit. “How are you?” het ek gevra. Dit was so awkward. Sy wou nie langs my sit nie, ek het geweet sy wou nie langs my sit nie, en sy het geweet dat ek geweet het sy wou nie langs my sit nie. “Fine.” Onvriendelik. “How old is your baby?” Stilte. Laaste kans: “What’s her name?” Verleë glimlag. Yup. Praat nie Engels nie. Maar darem vriendelik. Ish. Tweede kans vir verrykende ontmoeting – verspeel.
Die bus kom tot ‘n rukkerige stilstand en ek word wakker uit (wonderwerk!) ‘n regte egte slaap. Ons is seker by ‘n petrolstasie. Uiteindelik! Uit my onkunde oor die pap-en-hoender-ding was ek tee die tyd rasend honger. Uit die venster uit sien ek... Hmmm. Dis vreemd. Geen “Come freshen up!” “Refreshment right inside!” bordjies nie. Geen ander karre nie. Geen straatligte nie. Geen ligte nie, om die waarheid te sê. Actually, wag ‘n bietjie... Is dit... veld? Ja, gras, dit is definitief lang gras wat hier reg langs my venster groei. Ons kannie op ‘n highway wees as daar sulke lang gras net langs die pad groei nie. Shit, hoekom moes ek aan die slaap geraak het? Waar de donder is ons? Daar’s niks naby die stilstaande bus nie. Dooooooeeeer lê ‘n koppie, en daaaaaaaar sien ek ‘n doringboom. Verder net die maan en sterre. Dit klink poëties maar dit is nie. Dis die waarheid. Stranded! Ons is stranded in die middel van nêrens! Panic, panic, panic. Waar de hel is ons? Hoekom staan al die passesiers in die veld buite? Is daai ou besig om...? Yup, yup hy is. Voor almal. Hoekom moet ek altyd so nuuskierig wees? En HOEKOM FREAK NIEMAND ANDERS UIT NIE???????? Wag, wag, hier kom die bestuurder, dankie Vader. “Blah blah blah hierdie is nie Engels nie blah blah blah” is al wat ek kon uitmaak. En van omtrent die helfde van die oorblywende passesiers op die bus: “Blah blah blah Ndebele! Blah blah”. Terug na die bestuurder. Herhaal obviously wat hy voorheen gesê het in Ndebele. “No chance of an English translation, I suppose?” is wat ek moes gesê het, maar ek was al klaar die weakest link op daardie bus, danksy my velkleur. Ek was regtig nie lus om ‘n post-colonial-language-of-our-oppressors blikkie boontjies oop te maak nie. Ek weet, dit klink verskriklik maar dis honestly hoe my kop gewerk het in daardie oomblik.
Kakofonie van die passesiers. Hulle is nie gelukkig nie. “What’s going on?” vra ek die vrou langs my. Sy weet natuurlik nie regtig wat ek vra nie maar dis redelik obvious op hierdie punt. “It’s broken.” “What are they going to do?” Die bestuurder het vir baie langer gepraat as om net te kommunikeer dat die bus gebreek het. “We wait,” sê die vrou, en dis al wat ek uit haar kon kry.
Ek begin somme maak. Dis nou half elf. Ek het sesuur op die bus geklim. Ons het vir ‘n halfuur op die laaste stasie gewag. Dit beteken... vier ure. Ons ry al vir vier ure. En die laaste stasie was ‘n uur na die eerste een. So dis drie ure. Die naaste civilisation is ten minste drie ure van ons af weg. Maar daardie stasie was klein. Min kans dat ons hulp van hulle af sal kry. Ek het geen idee hoe hierdie goed werk nie. Stuur hulle vir ons ‘n nuwe bus? Stuur hulle ‘n mechanic? En as hulle doen, van waar af? Dit het my getref soos ‘n hou. Nee, ek weet nie hoe dit voel om deur ‘n hou getref te word nie. En ook nie regtig soos ‘n hou nie, want ‘n hou kom gewoonlik uit die bloute uit en verras die arme bliksem wat getref word. Hierdie realisation het nie uit die bloute uit gekom nie. Ek het dit sien opbou. Van die oomblik wat ek my oë oopgemaak het en agtergekom het die bus beweeg nie meer nie. Met elke bewuswording wat gevolg het kon ek die uiteindelike een sien vorm: die bewuswording dat ek vir ten minste drie ure op hierdie sitplek moet sit terwyl die bus nie een millimeter in die rigting van my bestemming beweeg nie.
Ek het gehuil. Soos ‘n baba het ek snot en trane gehuil en gehuil en gehuil. Ek was nie veronderstel om op daardie donnerse bus te wees nie. Daardie bus was veronderstel om daar te staan in die maanlig in die middel van nêrens met ‘n klomp Zimbabwiers wat soos elke jaar huis toe gaan sodat hulle Oujaarsaand met hulle families kon deurbring. Dit was business as usual vir hulle, hulle’t nie regtig omgegee nie, dit het geen implikasies vir hulle vertroue dat die lewe die moeite werd is gehad nie. Vir ‘n jong student wat daardie jaar haar eerste ontmoeting met Sartre en al sy angsaanjaende filosoof-buddies gehad het, aan die ander kant, was dit ‘n ander storie. Seriously, what was I thinking? ‘n Zimbabwiese bus? Net voor nuwejaar? In die middel van die nag? En vir wat? Sodat ek ‘n lewensverrykende ondervinding kon hê? Het ek nie al geweet teen hierdie tyd dat lewensverrykende ondervindings nie met my gebeur nie? Negentien jaar van sulke goed doen in blind faith dat iets gaan verander, dat dinge kan beter word? Nee, dit sou nooit gebeur nie. Dis nou net hoe die fokking lewe is. Ek het dit mos al geweet. Hoekom moes ek op hierdie belaglike “avontuur” kom as ek dit al klaar geweet het? HOEKOM?
Die volgende vier ure was die aakligste van my hele lewe. Ek het in ‘n patroon gekom: slaap vir ‘n paar minute, word wakker en besef waar ek is, huil, raak weer aan die slaap. Meeste van die ander passasiers het ook maar geslaap. ‘n Paar die-hards het aanhou kekkel. Ek weet nie eers hoe die bus weer reggekom het nie, so gefokus was ek op my eie misery. Maar om kwart voor drie daardie oggend het ons weer in die pad geval. I wasn’t off to a great start.
Ek wou sou graag hierdie sin begin met “En toe gebeur iets ongeloofliks in Zimbabwe...” but that would be lying. Ek het ‘n nuwe universe gaan soek maar wat ek gevind het was presies wat ek probeer escape het: alkohol, simpel grappe, ouens met lame pickup lines, meisies wat val vir daardie pickup lines, en, wel, alkohol. Ek het myself belowe ek sou nie rant oor dronk studente nie want dit laat my lame lyk, ek weet dit, en dis in elk geval net wat studente doen, so hoekom pla dit my so baie, right? Wel, dalk was dit die besef dat dit nie net Utopiaanse studente is nie, dat almal van my ouderdom eerder in ‘n vuil badkamer sal wees, besig om op te gooi, wanneer die klok middernag slat op Oujaarsaand - dis vir my net noggal hartseer. En by the way, wie’t gesê hierdie is cool in die eerste plek? Miskien is ek besig om te viralgemeen, in which case ek om verskoning vra, maar raak mense nie nou al moeg hiervoor nie? Jy moet een-of-ander tyd begin verveeld raak met die “Hoeveel vodka shots kan jy in ‘n aand down? My beste is twaalf, dude”- gesprekke? Regtig, studentikoos is een ding, maar hierdie nuwe epidemie waar mense nie net nie kan sosialiseer sonder alkohol nie, maar waar hulle letterlik niks anders het om oor te praat nie is net plain sad. Hier is ek! wou ek skree. Ek het sopas deur Zimbabwe gery op ‘n bus en julle dink dit sou meer interessant wees om te sien wat gebeur as jy Cane met Cream Soda én brandewyn meng as om vir my te vra hoe dit was!
Excuse me if I’m wrong, maar is hierdie nie veronderstel om die mees defining tyd van ons lewens te wees nie? Sure, dit is al gesê dat die lekkerste tyd van ons lewens is, maar sekerlik moet daar êrens plek wees vir discovery, vir dink oor wie ons gaan wees in hierdie wêreld. Want as ons dit nie nou uitfigure nie, wel waar sit ons oor twee of drie of hoeveelookal jaar as ons ons grade het maar nie veel meer nie want ons was te besig om te wonder watse kombinasie van sterk alkohol ons die vinnigste die dronkste sal maak as om te dink oor wat vir ons waardevol is, waarvoor ons wil werk, of wat ons wil bewaar – flip, net eenvoudig wat die lewe die moeite werd maak!
En ons raak kwaad as ouer mense ons die Lost Generation noem. Ons ís lost, ons is almal baie verlore. Die wêreld is ‘n baie scary plek, en dis nou scarier as wat dit was toe ons ouers studente was. Daar’s nie meer reëls nie, daar’s nie meer een aanvaarde manier van dinge doen nie, niks is konstant nie en die meeste van ons gaan waarskynlik vier keer in ons leeftyd heeltemal van beroep verander. Of wat was dit nou weer? Vier keer? Sewe keer? Watookal, die punt is dat daar baie minder sekerheid oor die toekoms vir ons is as wat daar vir ons ouers was, en selfs hulle was ‘n bietjie lost. Dis flippen vreesaanjaend, man. Ek verstaan heeltemal die kom-ons-word-so-dronk-dat-ons-nie-ons-eie-name-kan-onthou-nie-ding. Daar is baie redes om eerder bewusteloos te wil wees in hierdie day and age. Maar daar’s geen manier hoe ons hierdie vrese hoegenaamd kan tackle as ons meeste van die tyd nie eers regop kan staan nie. So flippet, drink dalk volgende keer net ses shots in plaas van twaalf. Dalk onthou jy die volgende oggend die gesprek wat jy met die meisie wat deur Zimbabwe op ‘n bus gery het gehad het. Dalk onthou jy selfs hoe dit jou laat wonder het of daar dalk belangriker goed is as om stupid pick-up lines op meisies te gebruik in ‘n baie misguided attempt om cool te lyk. Ek weet nie, dalk.
Of moenie. Actually, moenie. Drink die twaalf shots. Want die hoogtepunt van jou lewe, jou hele bestaan op aarde, gaan die paar jaar toe jy elke naweek gesuip kon raak sonder dat mense gedink het jy’t ‘n probleem wees. Altans, dit gaan wees as jy so aangaan. So geniet dit terwyl jy kan.
Ek persoonlik hoop die lewe gee my meer as dít.
Soos om op avonture te gaan wat jou vir vier ure in die middel van die nag langs 'n Godverlate pad laat beland, byvoorbeeld.
Just kidding.
Kind of.
Just kidding.
Kind of.