Wednesday, 23 November 2011

You just haven't earned it yet baby

Ek het sopas my eerstejaar as student aan die Universiteit Utopia voltooi. ‘n Mens sou dink dis ‘n bietjie van ‘n snobistiese naam vir ’n Universiteit, ek weet, maar die mense wat dit uitgedink het het... wel, vere gevoel vir wat ander mense van hulle dink. Want hulle’t geskiem hulle’s moerse oulik. En of ander mense nou saamgestem het of nie was irrelevant. Solank hulle dit geglo het en hulle bure dit geglo het was hulle heel oukei met daardie gedagte.

En daardie mentaliteit is saam met die naam aangepass van een generasie tot die volgende een en die gevolg is dat daar in hierdie dag en datum ’n dorp en ’n universiteit genaamd is Utopia en niemand dink dis absurd nie. Nee regtig, hoopvolle matrieks sê sonder skaamte vir hulle vriende en onderwysers dat hulle beplan om soontoe te gaan, ouers van hoopvolle matrieks vertel dit vir hulle eie vriende en kollegas, oumas en oupas doen dieselfde en niemand stop vir ’n sekonde om te wonder of dit nie effens snaaks is dat daar ’n hele klomp universiteite in die land is nie en net een van hulle mag Utopia genoem word. Dit sou nog alles oukei gewees het as Universiteit Utopia die naam spesifiek verdien het, byvoorbeeld deur een-of-ander kompetisie te wen en toe die titel “Utopia’’ verwerf het. Of as die universiteit (of die dorp) bloot uitgestaan het bo die ander universiteite en dorpe in die land vir enigiets anders as hierdie alombekende Utopia-ness. Maar dit het nie. Daar was geen kompetisie nie, daar was geen oorhandiging van titels nie, en daar was niks wat hierdie universiteit (of dorp) noodwendig beter gemaak het as enige ander plek in die land nie. Die dorp en die universiteit het hulself nou maar net so gedoop en om een-of-ander rede is dit so aanvaar.

Ongelukkig het niemand hierdie geskiedenis van Utopia aan my verduidelik nie.  Dus het my universiteitsopgewondenheid nie veel langer as die bloedige laatsomerhitte wat Utopia net vir ’n maand of wat aan die begin van ’n nuwe jaar berduk gehou het nie. Imagine my surprise toe ek op die dorpie aankom en soek en soek vir hierdie ding wat Utopia laat uitstaan, want volgens my moet daar iets wees wat die dorp beter as al die ander plekke wat ek al beleef het maak, iets wat hom meer as gewone dorpstatus gegee het en as Utopia uitgewys het, en ek kry eenvoudig niks nie. Die dinge waarvan mense my vertel het was alles daar, dis nie asof hulle gejok het nie. Die driehonderdjaaroue geboue was daar. Die grasperke was daar. Die bankies langs riviertjies was daar. Die berge was daar. Die groot spesiale bome met hul maklikherkenbare blare en neutagtige vrugte was daar.

Maar dis al wat daar was. Ek weet nie wat ek verwag het nie, maar darem iets meer as gras en bankies en bome. So vir die grootste deel van’n jaar het ek rondgewandel, my verkyk aan die driehonderdjaaroue geboue, oor die grasperke gestap, op die bankies gesit, foto’s geneem van die berge en die plase en die bome, op soek na hierdie ding. Dit was eers toe my goeie vriend Hoërskoolkêrel vanuit Land-Van-Die-Lewendes na aan die einde van die jaar vir my kom kuier het dat ek besef het my soektog is tevergeefs.

Nou moet ek eers bysê dat Hoërskoolkêrel nie heeltemal sonder vooroordeling Utopia die eerste keer binnegestap het nie. Elke keer wat ek huistoe gegaan het gedurende die jaar het arme Hoërskoolkêrel geluister hoe ek keer op keer my kop stamp in my soektog vir die Utopia-ding. (Hoërskoolkêrel was ook onder die indruk dat daar wel so iets was; hierdie idee van self-made oulikgeid was nog meer onbekend vir hom as vir my sienende dat hy nie ’n Boer-afstameling is nie maar meer van Anglo-oorsprong.) Ek moes vir Hoërskoolkêrel by Utopia se treinstasie ontmoet. Die treinstasie is aan die onderkant van die dorp, waar daar nie baie studente is nie. Studente ry nie regtig trein nie. Natuurlik nie, hulle bly dan mos in die dorp. Waar anders sal mens heen wil gaan as jy in Utopia bly? So diegene wat wel treinry is die wat nie daardie voorreg deel nie. Die inwoners van Utopia sou dit natuurlik verkies as diegene wat nie daar bly nie maar eerder nie in die dorp rondhang nie, maar selfs Utopiane het hulle huishulpe en tuinwerkers nodig. En alle geboue moet instand gehou word, of hulle nou driehonderdjaar oud is of nie, dus het die dorp ook bouers nodig. En daar moet mense wees wat papiere sal optel vir ’n lewe sodat ons gelukkige bliksems wat daar swot ons papiere op die grond van ons driehonderjaaroue lesinglokale en pragtige grasperke kan gooi sonder om ons te bekommer oor hoe dit die volgende dag daar sal lyk. Hierdie is die mense wat treinry. En so was hierdie die eerste mense van die area wat Hoërskoolkêrel mee in aanraking gekom het.

“Sorry, we have to walk fast so we can get to the nicer part of town quickly,” het ek ewe vir hom gesê. “I don’t really come here that often.” Hoërskoolkêrel was gaaf genoeg om niks oor my totale gebrek aan insig in my gewoondraak aan ’n baie verkeerde stelsel te sê nie. Binne ’n paar minute se powerwalking is my cover geblaas. ’n Boemelaar vra ons vir geld. Dis belangrik om te verstaan dat voor ek en en Hoërskoolkêrel net goeie vriende was het ons nogal ’n goeie verhouding met boemelaars gehad. Daar is ’n hele klompie van hulle in Land-Van-Die-Lewendes (soos daar maar in enige plek in ons land is) en ons het kort na die verkry van albei ons bestruurderslisensies saam agtergekom hoe baie boemelaars dit waardeer as mens net nice met hulle is. Ons het nooit regtig vir hulle geld gegee nie, maar ons het nogal ’n punt daarvan begin maak om by elke rooi robot maar ons vensters oop te maak en vir hulle te vra hoe dit met hulle gaan. Heel verras oor die oopvenster-ding sou die boemelaars dan lekker met ons gesels. En hulle sou teleurgesteld wees oor ons nie vir hulle geld gegee het nie, maar hulle het altyd afskeid geneem met ’n vriendelike “Next time, my sister!” of iets in daai lyn. Op hierdie dag in Utopia was daar geen ge-“my sister!“  nie. Ek self was heel vriendelik met hierdie spesifieke boemelaar. Maar die reaksie was meer van die “Jou ma se –" soort. Ek was nie verbaas nie, dis maar hoe ek Utopianse boemelaars ken. Maar Hoërskoolkêrel het nie nege maande of wat se voorbereiding gehad nie en hy was hoogsontsteld oor hierdie jongman se gedrag. “Just leave it,” het ek aan hom gesê, om ’n vuisgeveg en waarskynlik ’n homicide te verhoed. “There’s nothing you can do about it.”

Van daar af was die res van die middag totaal-en-al ’n flop. Ek het al die mooi geboue aan Hoërskoolkêrel uitgewys en die ons het op een van die mooi grasperke gesit en in die straat met al die mooi bome afgestap en ek het regtig hard probeer om Utopia aan hom te verkoop net sodat ons ten minste die kuier kon geniet. Maar hy wou niks weet nie. Want dit maak nie saak hoe mooi of oulik ’n plek is nie. As daar mense daar rondloop wie se menslikheid heeltemal weggeneem is, maak nie saak hoe nie, dan is daar fout met die plek. Dis hoekom daar fout is met die wêreld, ons almal weet dit tog. Die wêreld is ’n nasty, nasty plek. En as ’n Utopia bestaan het sou dit ’n plek gewees het waar, if nothing else, almal se menslikheid darem in tact was.

Dat ’n dorp bestaan waar alles maar net so nasty is soos wat dit in die res van ons land is maar waaroor mense praat asof dit hemel op aarde is getuig van ‘n crucial ding van ons volk. Ons is almal onder die illusie dat ons nog oulik is. Ander mense herken die ewils in hulle samelewings, of hulle nou skaam kry daaroor of nie, daar is ’n definitiewe verstaan dat alles nie 100% reg is nie, maar hulle gaan maar aan. Nie ons nie. Ons bewonder ons aan die geboue wat ons voorvaders driehonderd jaar gelede gebou het maar ons stap net ’n bietjie vinniger as ons die mense wat daardie gebou vandag instand hou op straat teëkom. En ons lê so lekker op ons legendariese grasperke maar ons ignoreer die mense wat dit vir minder as wat mens nodig het om te oorleef elke dag skoonmaak. Ons is nie erger as ander mense nie, almal doen dit maar. Maar ons maak asof ons nice is, ons maak asof dit oukei is en dit is nie.

En so het die hele jaar se soektog daardie middag uiteindelik tot ’n einde gekom. Ek het al reeds al die goed gevind wat Utopia so wonderlik maak. Maar nie een van hulle tel nie want nie een van hulle werk teen die wreedheid van die wêreld nie.

“Now we know what’s wrong with this place!” het ek opgewonde aan Hoërskoolkêrel aangekondig net voor ons weer by die stasie uitgekom het. Hy’t net gelag. Dit was toe al die tyd nie so moeilik nie.